<%@ Language=VBScript %> <% dim DocPath DocPath = Server.MapPath("eredienste/html") %> Gereformeerde Kerk Randburg | Reformed Church Randburg

IN DIE NUUS

Nico Botha

'n Paar gedagtes oor nuusgebeure in die lig van die Skrif

Wat is die mens, Here?

Tussen al die baie berigte oor die ruimtetuig, Columbia, se vernietiging skaars sestienminute van ‘n veilige landing af, was daar Maandag ‘n berig oor die ses leerlinge van ‘n skool in Israel wie se eksperiment saam met Ilan Ramot in die ruimtetuig was.

Hulle het vier jaar lank beplan aan die eksperiment om die groei van kristalle in toestande van gewigloosheid te ondersoek Ramon se taak in die pendeltuig was om die invloed van gewigloosheid op stof en insekte te ondersoek.

Daarvoor en vir ander navorsing het hy en agt ander deel gehad aan nogsteeds seker die grootste wetenskaplike prestasie van die mensdom tot nou toe : ‘n reis deur die buitenste ruimte !

Enige christen wat so ‘n reis kan meemaak , sal sekerlik nie anders kan as om Psalm 8 aan te haal nie :

"Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!"

En toe breek die Columbia teen 20,000 kpu in stukke op, 50 km bo die aarde. ‘n Mens sal die woorde van pres. George W. Bush onthou : "Hulle het wel nie teruggekeer aarde toe nie, maar ons bid dat hulle veilig tuisgekom het."

In die berig oor die tieners se projek word in die stukkie besonderhede oor Kol. Ramon vermeld : Hy het geheime sendings uitgevoer om kermreaktors in Irak te vernietig, hy het as vlieënier in twee oorloë geveg , en sy ma en ouma het albei die konsentrasiekamp by Auschwitz oorleef.  Hy was deel van ‘n geslag wat verskriklike gevare kon trotseer en dit oorleef, en net nog 16 minute dan sou hy veilig terug wees na baie duisende kilometers teen ‘n verbysterende spoed deur die ruimte!

En toe, na so ‘n grootse en gevaarlike ervaring , het hy ook gesterf net soos sy ma en ouma na Auschwitz tog ook gesterf het.  Hoe nietig is ons ?  Ons grootste prestasies neem niks weg van die feit dat ons sterflik is nie.  Al verloop ‘n reis deur die ruimte hoe voorspoedig, al is ons reeds so lank gelukkig getroud, al het iemand al wonderlike erkenning in sy beroep gekry of ‘n graad met hoogste lof geslaag, as jy mooi daaroor dink,

"wat is ‘n mens , Here !
As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers
die maan en die sterre
wat is die mens dan dat u aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien ?"


Terwyl oor ‘n afstand van baie kilometers gesoek word na iets wat oorgebly het van die pendeltuig en die 9 bemanningslede, besef ons ons eie nietigheid al hoe duideliker --- en bid ons dat elkeen wat nou alleen agterbly die troos sal ervaar wat net ons goeie God aan ‘n mens kan gee.

En bid ons dat ons tog nooit sal vergeet dat ons klein mensies is nie !