IN DIE NUUS
Nico Botha
'n Paar gedagtes oor nuusgebeure in die lig van die Skrif
KERSFEES SELFS IN DIE GEVANGENIS
Toe ek die onderhoud lees van Adele Stiehler met Philip Kruger oor sy geseënde pastorale werk in die gevangenis (Beeld , 14 Desember) het ek met skaamte besef dat ek lanklaas vir gevangenes gebid het.
Dis vreemd dat ‘n mens kan vergeet om vir hulle te bid, want eintlik is dit ‘n groep mense met wie ons almal baie in gemeen het, al dink ons meestal dat dit nie so is nie.
Afgesien van die wat nog wag om verhoor te word, is die tronke vol misdadigers : hulle is gevang, regverdig verhoor en het ‘n gepaste vonnis gekry.
Maar hulle is nie die enigste misdadigers in die wêreld nie. Die wêreld is vol misdadigers!
Ons bely mos in Sondag 51 van die Heidelbergse Kategismus dat die gebed om vergifnis van sonde beteken:
"Reken ons, arme sondaars, al ons misdade.... nie toe nie".
Al ons misdade !
Die verskil tussen die misdade wat ons almal pleeg deur soms in stryd met God se wet te leef en die misdade waarvoor mense in die gevangenis hulle vonnis uitdien, is net dat die owerheid nie mense tronk toe stuur vir afgodery en die ydele gebruik van God se Naam en egbreuk en leuens en afguns nie.
Maar die Here noem dit ‘n misdaad, ‘n oortreding wat nie net gevangenisstraf verdien nie, maar die dood (Ef. 2 : 1).
God se Goeie Nuus vir hierdie wêreld is : "Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die een mens, Jesus Christus gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk"
(Rom . 5 : 15) !
Ons vier Kersfees oor God se oorvloedige genade vir misdadigers buite en in die gevangenis. Oorvloedige genade wat deur Jesus na ons gekom het !
Jesus se koms na hierdie wêreld kry eers regtig vir ons betekenis as ons erken dat ons vergifnis en verlossing nodig het. Dan word ons saam met die kindertjies verwonderd oor die Kind in die krip, oor die Heiland wat gebore is, oor die Redder van wie ons juigend kan getuig.
Mag Kersfees vir "ons arme sondaars" ‘n ware fees oor God se reddende genade wees, selfs tot in die gevangenis !