<%@ Language=VBScript %> <% dim DocPath DocPath = Server.MapPath("eredienste/html") %> Gereformeerde Kerk Randburg | Reformed Church Randburg

IN DIE NUUS

Nico Botha

'n Paar gedagtes oor nuusgebeure in die lig van die Skrif

NOG 'N MOORD --- KYK GOD NET TOE?

Elke dag hoor ons van nog 'n moord ! Selfs agter die hoë mure en geëlektrifiseerde heinings , en tenspyte van alarmstelsels en diefwering, breek rowers helder oordag in en vermoor almal wat in hulle pad kom !

Vir 'n handvol juwele , 'n paar besittings en 'n bietjie geld word 'n man in sy werkskamer vermoor en sy vrou in die bad verdrink ! Die voorbeelde kan vermenigvuldig word, dag na dag en week na week .

Waarom ?

Geen ondersoek sal seker ooit sonder twyfel kan bevind wat die grootste enkele rede is vir hierdie gruweldade op plase en in ons stede nie. 'n Lys van moontlike motiewe sal waarskynlik rassehaat en wraak insluit, maar beslis ook werkloosheid en armoede en geldgierigheid en goddelose minagting vir mense en hulle besittings.

Wat moet gedoen word om die situasie te verander ?

Dis net so moeilik om daarop te antwoord , want dit sal nie help om dit net deur meer wagte te probeer keer nie. Die oorsake en motiewe sal ook aangespreek moet word.

Ons sal as mense in hierdie land moet saamwerk om alle moontlike oorsake te bekamp al sal niemand seker droom dat ons in hierdie lewe alle moord en roof sal kan uitroei nie.

Ons sal beslis moet saamspan om ons omgewing beter te beskerm en te laat bewaak, al kos dit baie. Die lewe van 'n mens is meer werd as die koste van buurtwagte en groter polisie teenwoordigheid in ons strate.
Die verskriklike armoede van miljoene mense terwyl ander, van alle bevolkingsgroepe, in weelde leef mag ook nie maar so aanvaar word nie.

Daar is ook 'n ander armoede wat ons aan die hart moet gryp : Die geestelike armoede van miljoene, ook van alle bevolkingsgroepe. Mense sonder God is mense sonder hoop en sonder volharding en dikwels sonder gewete en sonder lewenswaardes wat respek vir ander insluit. Dit lei aan die een kant tot armoede en ellende en misdaad, maar andersyds ook tot selfsug en liefdeloosheid en materialisme.
Daarom is dit nou die tyd om die Evangelie van die lewende Here met krag en entoesiasme te bring aan almal wat ons mee in aanraking kom. Met vrymoedigheid sal ons met woord en daad dit vir mense moet duidelik maak dat daar maar een Verlosser is, Jesus die gekruisigde wat die dood oorwin het.

Daarvoor sal ons in eie hart ook die troos van God moet beleef. Die troos wat Hy gee aan mense wat vra : "Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor , Here ...... waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?" (Habakuk 1: 2,3). Hy gee hoop aan mense wat beleef dat die wet nie meer krag het nie en dat slegte mense die oorhand het en die reg verkrag (Hab. 1: 4). Hoe troos Hy ons ?

Asof met reuse groot letters laat God die boodskap neerskryf : "Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly." Maar onthou : "Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis ..." (Hab. 2 : 2 - 4).

As ons vashou aan God se "beslis", sal ons ook uitkom by die gelowige se groot "nogtans ". Al loop so baie dinge skeef, al misluk baie mooi pogings, al beleef ons skrik en ontsteltenis "nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag ..." (Hab.3: 18, 19).
Mag almal wat in rou is oor geliefdes wat wreed vermoor is, en almal wat die trauma van gewapende roof en verkragtings ervaar het, hierdie troosvolle sekerheid beleef..