<%@ Language=VBScript %> <% dim DocPath DocPath = Server.MapPath("eredienste/html") %> Gereformeerde Kerk Randburg | Reformed Church Randburg

IN DIE NUUS

Nico Botha

'n Paar gedagtes oor nuusgebeure in die lig van die Skrif

JY KAN WYS DAT JY OMGEE !

Kersfees is fees van die liefde : God se liefde ! Ons vier fees oor sy onbegryplike ontferming oor mense soos ons . So lief het Hy die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê (Joh. 3:16) !
Jesus wat in Betlehem gebore is , is God se duidelike antwoord vir alle tye op die vraag of Hy werklik omgee. Hy sê nie net dat Hy liefhet nie, Hy laat sy Woord mens word, Hy wys daadwerklik dat Hy omgee.

Daarom is daar in hierdie feestyd nie plek vir selfsug en eie bevoordeling nie.
Kersfees is ‘n tydige herinnering dat ons heeljaar nie net moet ontvang en onsself verryk nie, maar dat almal wat reeds ontvang het, bereid moet wees om te gee. Dis tyd vir daadwerklike omgee.

Daarom was dit verblydend om te sien dat Beeld ‘n lysie publiseer onder die opskrif 'Kyk hier hoe jy kan wys jy gee om' . Maandag is 7 instansies met hulle kontaknommers genoem. Daar is net hier rondom ons waarskynlik nog ‘n paar honderd aksies wat ondersteuning gee aan mense vir wie die lewe om verskillende redes vol moeite en lyding en hartseer geword het.
Binne elkeen van ons se leefwêreld is daar waarskynlik eensames, siekes, treurendes, armes, gestremdes, wat verlang na selfs net die kleinste teken van werklike liefde om hulle omstandighede bietjie draagliker te maak.

Ons troue God en Vader het nie net mooi beloftes vir ons laat opteken nie, Hy het gewys dat Hy liefhet. Ons wat Hom ken moet nou ook meer doen as net kersliedere sing !
Ons moet ook nou wys dat ons omgee.
Ons kan ! Jy sal kan wys dat jy omgee, as jy net eers onthou :

  1. Met Kersfees is ‘n 'omgee-lys' baie meer van pas as wat ‘n 'wenslysie' is.
  2. Ons Here het ons geleer om nie mense na ons feeste te nooi wat ons dalk weer sal uitnooi en so ons kan vergoed nie, nee 'nooi armes, blindes, kreupeles, verminktes' (Luk. 14 : 13).
  3. Ons ervaar oorwinning oor ons selfsug, en ook bevryding van ons eiewilligheid as ons oë en harte net eers oopgaan en ons dan begin wys dat ons iets wil doen aan wat ons sien.
  4. Die beste plek om te begin, is sommer hier naby jou. Begin maar met ‘n glimlag en kyk hoe maklik word dit om jou hand uit te steek, selfs nadat jou hand eers (diep) in jou sak was !
  5. Sonder die daad is mooi woorde hol en leeg, maar sonder liefde is dade niksseggend 1 Kor. 13 : 3).
  6. Hoe meer ons omgee vir ander en dit wys, hoe meer besef ons dat God sy Seun gegee het as ons Heiland, want 'Heiland' beteken dat Hy ons heelmaak. Heel mense kan wys dat hulle omgee.