IN DIE NUUS
Nico Botha
'n Paar gedagtes oor nuusgebeure in die lig van die Skrif
STRY DIE GOEIE STRYD ...OOK TEEN DIE STAAT !
Die onlangse berigte oor 'n ondersoek na 'n waarskynlike komplot om die regering omver te werp, stuur waarskuwingseine uit vir almal in Suid-Afrika. Ons weet watter ellende gewapende opstand kan bring.
Ons geskiedenis vertel die droewige verhaal van Slagtersnek, Jameson, die Rebellie van 1914, die Jeugopstande van 1976, en daarna die talle terroriste aanvalle en teen-insurgensie optrede. Die huidige ondersoek moet nog aantoon dat daar werklik so 'n komplot gesmee is, maar daar word al mense aangehou en daar is al beslag gelê op vragte wapens.
Almal moet die waarskuwingsligte sien flits :
- Die staat moet besef geen regering mag die ideale en strewes van 'n deel van die bevolking ignoreer nie. Al is dit nooit moontlik om almal volledig tevrede te stel nie, moet pleidooie minstens uitgeluister word en almal opgeroep word tot begrip daarvoor . Daar is nie regtig iets soos "onoplosbare" geskille nie. 'n Regering wat sulke eise as onbelangrik beskou of met staatsmag onderdruk, kom later agter dat hulle nie instaat was om 'n vryheidstryd af te weer nie. Die Franse Revolusie, die Burgerregte stryd in die VSA , en ons eie "Vryheidsdag" op 27 April is maar net 'n paar bewyse daarvan.
- In die vyfde gebod en alle uitsprake wat daarmee verband hou, verbied die Here ons om in opstand te kom teen die gesag wat Hy oor ons gestel het.
Daarom moet dit vir ons almal ontstelend wees as daar selfs net sprake is van sameswerings om met geweld teen die staat op te tree. Elke optrede teen sulke vermeende rebelle skep die moontlikheid dat die "beweging" kan groei in omvang en in intensiteit en dat dit weer tot verskerpte teenaksie kan lei.
In ons ywer vir dit wat reg is, en ook in ons stryd teen wat verkeerd is, kan ons altyd gelowig vashou aan die heerlike waarheid dat Jesus Christus self die Handhawer van die reg is. Daarom mag ons nooit wanhopig word en desperaat in eie krag ons eie wil deurdruk nie.
Lees gerus maar al 43 verse van Psalm 107, en "let op die Here se trou" !