<%@ Language=VBScript %> <% dim DocPath DocPath = Server.MapPath("eredienste/html") %> Gereformeerde Kerk Randburg | Reformed Church Randburg

IN DIE NUUS

Nico Botha

'n Paar gedagtes oor nuusgebeure in die lig van die Skrif

KAN VERKRAGTING NORMAAL WEES ?

Volgens onlangse nuusberigte het 'n gevallestudie by 9300 leerlinge in ons land getoon dat dit vir tussen 12% en 20% van die seuns en vir tussen 5% en 13% van die meisies normaal is om hulle aan ander kinders seksueel op te dwing. Baie meisies (22%) aanvaar dat hulle nie die reg het om nee te sê nie !
Dit verbaas 'n mens dan ook nie om te lees dat 'n derde van die leerlinge vermoed dat hulle MIV-positief is nie.

Wat veroorsaak hierdie verwronge siening ?
Is jongmense bang hulle sal verwerp word as hulle hulle vriend nie laat begaan om te doen wat hy wil nie ?
Of is die eerste fout dat hulle te gou te ver gaan en dat sy dan besef dis te laat om nou preuts te wil wees ?
Stuur sulke jongmense ( leerlinge) nie dalk al sommeer vandat hulle mekaar leer ken al met hulle kleredrag en met wat hulle sê en die manier waarop soms gedans word en met die films waarna hulle kyk, die boodskap uit dat daar geen perke is nie ?
Hoe kan hulle dan respek vir mekaar en mekaar se liggame hê ?

'n Belangriker vraag is seker: hoe lyk die voorbeeld wat kinders in die huis en by ander kry oor respek en inagneming van mekaar se wense en waardes ?
Dis seker onwaarskynlik dat 'n seun wat gereeld sien hoe sy pa hom nie steur aan ma se voorkeure en wense nie, skielik sy meisie se wense sal respekteer.
Hoeveel medeseggenskap het man en vrou binne die huwelik oor hulle seksuele omgang met mekaar, of aanvaar die een dikwels maar willoos wat die ander een doen ( 1 Kor.7:5) ? Wat vir onthouding geld , geld sekerlik ook vir omgang.
Kinders sal wedersydse respek en begrip tussen ouers aanvoel, en self ook uitleef.

En die kerk ?
Die hele seksuele revolusie sedert die sestigerjare is grootliks net deur die kerk verwerp en geïgnoreer , sonder om leiding te gee oor hoe 'n gesonde verhouding tussen 'n seun en meisie volgens die Skrif moet lyk.
Die duidelike lyne van die Skrif oor seks as deel van die huwelikslewe beteken tog nie dat voor die huwelik daar geen fisiese vertroeteling mag wees nie. Ook vir christene het die erotiese 'n bepaalde plek in groeiende bewondering van mekaar. Daarvan getuig die Bybel se heerlike liefdeslied, Hooglied , so duidelik.
Die perke wat die Woord aan ons seksuele lewe stel, bring juis die vryheid om mekaar te kan bemin, sonder om mekaar te misbruik.

Kom ons onthou self en kom ons leer ons kinders : "Moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie " (Hooglied 3:5) . Dan sal ons jongmense hê wat wat sing van die liefde, en mekaar met respek liefkoos.