IN DIE NUUS
Nico Botha
'n Paar gedagtes oor nuusgebeure in die lig van die Skrif
WAAR DAAR LEWE IS, IS DAAR NOG ‘N TAAK
‘n Koerantberig Maandagoggend oor ‘n jongman wat al 16 jaar lank in die hospitaal verlam lê, het seker ten spyte van die begin-van-die-week se gejaag almal vir ‘n
oomblik tot stilstand geruk. Karel Naude is aan ‘n asemhalingsapparaat gekoppel vir die grootste deel van sy 19 lewensjare, maar hy bly besig met die ontwerp en druk van inkleurboeke,
geleentheidskaartjies, kalenders en visitekaartjies vir ‘n inkomste. Vir ontspanning speel hy skaak sedert ‘n verpleër hom twaalf jaar gelede die spel geleer het.
Dit het my dadelik laat dink aan ons lidmate in Cheshire Homes langs die gemeentesentrum wat gereeld Sondagoggende in die erediens is, selfs in die winter, en wat ‘n produktiewe lewe ly
met studies, skilder, naaldwerk en baie ander vaardighede waartoe hulle ten spyte van verlamming instaat is.
Waarvoor leef so ‘n mens wat verlam in ‘n hospitaal lê of as parapleeg / kwadrupleeg met behulp van ‘n rolstoel iewers moet kom ? Want in baie sulke situasies is dit nie
waar dat daar nog hoop is op herstel waar daar lewe is nie. Die skade is dikwels onherstelbaar.
Maar waar daar lewe is is daar nog ‘n taak --- in minstens twee opsigte:
-
Vir die verlamde is daar die groot opdrag om al die vermoëns wat daar nog is, te gebruik in ‘n lewe waarin God verheerlik word. Dis sekerlik nie maklik nie, beslis baie moeiliker
as wat ons wat die gebruik van ons hande en bene het ons ooit sal kan indink ! Maar selfs dan , in die hospitaal of in die rolstoel, is dit nog teeds moontlik om oor die groot dade van God te
praat en in diepe afhanklikheid Hom te prys en te dank. Ons dank die Here vir elke verlamde wat self soveel moontlik ook vir eie inkomste doen en daarmee die Here wat sorg, verheerlik. Dis
soveel anders as baie ander wat kan loop en hande het wat bruikbaar is, maar niks meer doen as hande uitsteek en vra nie!
-
Vir almal wat met gemak kan rondbeweeg , is daar die roeping en taak om die verlamde by te staan en te bemoedig. Prakties bemoedig soos daardie verpleër wat ‘n jong seun gehelp het
met iets wat nou al twaalfjaar lank sy dae help vul. Solank hulle lewe, het ons ‘n taak. Dink net hoeveel verskil maak dit as iemand so ‘n mens ‘n vaardigheid help aanleer .
Doen goed aan alle mense, sê die Here ! Begin maar by medegelowiges, maar moenie daar ophou nie . Doen goed, “solank ons die geleentheid het”( Gal. 6:10).
Solank daar lewe is, het ons ‘n taak : om te bid en om te werk!