<%@ Language=VBScript %> <% dim DocPath DocPath = Server.MapPath("eredienste/html") %> Gereformeerde Kerk Randburg | Reformed Church Randburg

IN DIE NUUS

Nico Botha

'n Paar gedagtes oor nuusgebeure in die lig van die Skrif

TERWILLE VAN DIE WAARHEID

Van verskillende kante af is gevra dat die moontlikheid ondersoek word om die eedswering tydens verhore in die hof, af te skaf. Sommige vra die ondersoek omdat Jesus gesê het : "Moet gladnie 'n eed aflê nie". Ander motiveer dit deur daarop te wys dat so 'n eed 'n gewetenlose mens nie sal afskrik om vals getuienis af te lê nie. Nog 'n argument is dat so 'n eed soms kan beteken dat die Naam van God ydellik gebruik word, byv. as ongelowiges ook maar prewel : "So help my God" . Miskien is dit maar net nog 'n poging om seker te maak dat almal sal besef ons leef in 'n sekulêre staat waarin geloof en godsdiens nie amptelik 'n plek het nie !

Wat moet ons siening as christene wees oor die moontlike afskaffing van die eed in ons regspleging?

Miskien is die eerste vraag wat ons moet vra : "Waarom is dit tot nou toe die gebruik dat alle getuies in 'n hofsaak onder eed geplaas word ?

Die antwoord is kort en kragtig : "Terwille van die waarheid" of nog korter in die oorspronklike taal van ons regstelsel : "Pro Veritate". So bely ons ook in die antwoord op vraag 101 van die Heidelbegse Kategismus dat ons godvresend by die Naam van God 'n eed mag sweer "... as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit vereis , om daardeur trou en waarheid te bevestig."
Ons mag teen niemand valse getuienis aflê nie, en ons moet alle lieg en bedrieg as die eie werke van die duiwel vermy (vgl. vr. 112 van die HK).

Dit is dan ook die rede waarom Jesus Hom so sterk uitspreek teen die misbruik en bespotting van die eed in sy tyd. Toe al het mense dikwels vals gesweer, en om hulleself te probeer "beskerm" het hulle dan nie by die Naam van God gesweer nie, maar "by die hemel", of "by Jerusalem". Maar jy moet onthou, sê Jesus, eintlik lê jy dan tog in die Naam van God 'n eed af (Matt.5 : 33 - 37).
Daarom : Laat julle "ja" eenvoudig "ja" wees, en julle "nee", "nee". Terwille van die waarheid het ons as christene nie 'n eed nodig nie ! Ons moet in elk geval alle lieg en bedrieg vermy !

Elke mens wat al 'n paar uur in 'n hof moes sit , het al gehoor hoe die Naam van God misbruik word deur beskuldigdes en getuies wat ewe plegtig 'n eed aflê en dan tog later as "onbetroubare getuies" uitgewys word. Jy voel later jy is deel van 'n sondige sameswering om God te onteer !
'n Plegtige verklaring, 'n duidelike verbintenis om die waarheid en niks anders as die waarheid te praat nie, behoort ook in die hof genoeg te wees soos wat dit meermale op dokumente ook as voldoende beskou word.
As ons maar net vashou aan die eis om ons vir die waarheid te beywer, al is dit ook tot jou eie skade, of dit nou in die regspleging is, of in beriggewing deur die media of in ons persoonlike gesprekke en optrede is.

Ons wil nie anders doen nie, want ons behoort aan die Here van wie gesê word : "Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer, wat oor en oor in 'n oond gesuiwer is" (Psalm 12 : 7)