IN DIE NUUS
Nico Botha
'n Paar gedagtes oor nuusgebeure in die lig van die Skrif
ZIMBABWE !! …. EN ONS ?!
Dit gebeur al van die vroegste tye af dat individue of regerings ander mense
verontreg. Wat nou in Zimbabwe gebeur met die onteiening van plase, is niks nuuts
nie. Dink maar net aan koning Agab wat met skyn van reg Nabot se wingerd onteien,
ten koste van ‘n regverdige man se lewe ( 1 Kon.21). Ook in die meer moderne
geskiedenis het baie mense al onreg gely en hulle besittings en selfs hulle lewe
verloor. Dis niks nuuts nie ! Maar daarom is dit nie minder erg nie! Al het baie
ander dit al gedoen, het pres. Mugabe en sy regering steeds nie die reg om mense
van hulle eiendom te beroof nie. God sal ook hierdie onreg nie ongestraf laat
bly nie ( lees gerus 1 Kon. 21 :17-19)!
WAT MOET ONS DOEN ?
As christene kan en moet ons gelukkig meer doen as net om eenkant toe te kyk
of ons hande in onskuld te was :
- Ons moet hard en duidelik met die Woord teen die onreg getuig. Dis nie ons
taak om vooraf te wil weet of dit sal help nie. Die Here sal die getuienis
van sy kerk gebruik. Ons moet net nie swyg nie.
- Ons moet volhardend bid vir besinning en bekering , by hulle en by ons.
- Ons moet betyds na ons eie situasie kyk en eerlik onsself afvra:
- Doen ons alles wat die Here van ons vra om die omstandighede van armes
te verbeter ? Gee ons regtig al genoeg aandag aan die daarstel
van arbeidsintensiewe ondernemings wat massas mense oplei ?
- Is ons bereid om as christene saam te werk, ongeag ons volksverband, sodat
ons oor alle taal- en kultuurgrense heen uit een mond teen onreg kan getuig,
en positief projekte van stapel kan stuur wat ‘n verskil sal maak?
Of sonder ons ons af in klein groepies wat nie regtig gehoor word nie ,
en nie veel kan vermag nie?
- Is dit as christene ons hoogste strewe om die Koninkryk van God en die
wil van God te soek, of is ons groot bekommernis : “Wat sal ons eet?”
“ Wat sal ons aantrek?”
Maar terwyl ons dit alles doen, en nog baie meer ook, moet ons sekerlik
kinderlik gelowig luister na die ernstige vermaning van die Here in 1 Kor.
7 : 29 – 31 : “…Van nou af moet die wat getroud is, leef
asof hulle nie getroud is nie; en die wat bedroef is asof hulle nie bedroef
is nie, en die wat bly is asof hulle nie bly is nie, en die wat iets aankoop
asof hulle dit nie besit nie. Ja, die wat met die dinge van die wêreld
te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld
soos ons hom ken, is aan die verbygaan”
Here, maak my los van wat ek dink myne is !