My huwelik is op die rotse – gaan God my gebede verhoor en my lewe herstel?



Vraag : Wat gaan aan in my lewe? Is dit God se wil?
My vrou het tien jaar gelede weer kontak gemaak met haar eerste studente liefde. Dit het geweldige druk op my en ons huwelik geplaas - ons het al vir nege jaar geen seksuele verhouding nie, omdat sy dit weier. Die man is geskei en woon nou in 'n ander land maar hulle het gereeld kontak en hy besoek haar as hy in Suid Afrka is, of sy gaan besoek hom in 'n nabuurige dorp. Sy sê dis bloot 'n vriendskap en haar gewete is skoon, maar ek het op van haar e-pos boodskappe afgekom - dit is vol verlange en liefde aan hom. Ek het uitstedig gewerk vir jare en wou huis toe kom om my huwelik te beskerm. Ek het ernstig gebid en God gevra om my te lei. Ek het bedank en werk tuis begin soek, maar was onsuksesvol - ek sit nou in 'n ander land - ver van alles af en wonder of God ooit my gebede gaan hoor en my lewe gaan herstel. Ek glo in Sy beloftes en wag geduldig, maar dit is baie moeilik!
Antwoord: Ek kan dink dat dit vir jou moeilik is om so ver te sit met hierdie onrus in jou hart oor jou vrou se betrokkenheid by ‘n ander man. Ons moet vra wanneer is ek ontrou aan my huweliksmaat, slegs as ek geslagsgemeenskap het met iemand anders? Nee, die huwelik is ‘n geestelike, emosionele en ‘n liggaamlike verbintenis tussen twee mense. Wanneer ek ten opsigte van hierdie drie aspekte dit wat ek by my man of vrou moet kry by iemand anders kry, is ek besig om ontrou te wees aan my huweliksmaat. Wanneer my vriendskap met iemand van die teenoorgestelde geslag my verhouding met my huweliksmaat negatief beïnvloed, dan moet daardie vriendskap tweede kom – selfs al is my huweliksmaat dalk oorsensitief. Die Here sê dat die wese van die huwelik daarin bestaan dat ons die belangrikste verhouding (vader en moeder) en alle ander verhoudings tweede moet laat kom (hulle verlaat) en my huweliksmaat moet aankleef (streef na nabyheid). Dit wat jou vrou doen is dus verkeerd.
Soms bring die Here onbegryplike lyding op ons pad en moet ons geduldig op die uitkoms wag. Ons moet egter ook hulp soek by medegelowiges sodat daar daadwerklik iets aan die probleem gedoen kan word. As ons in ‘n negatiewe groef verval in ons verhouding, beroof ons onsself van die genade wat die Here vir ons bedoel in die huwelik. Ek sou dus aanbeveel dat jy jou vrou dringend vra dat julle vir berading gaan.
Dr. Gert Breed