Watter plek laat die kerk vir hedendaagse Esters?

Aandag: maak 'n nuwe venster oop! PDFAfdrukE-pos

Vraag: Watter plek laat die gereformeerde kerk vir hedendaagse Esters? Sluit hulle dit uit dat die Here vir sommige vroue die gawe van prediking kon gee, maar die instelling laat dit nie toe nie?

Antwoord:  Ek begin by die tweede deel van jou vraag, nl. “sluit hulle dit uit dat die Here vir sommige vroue die gawe van prediking kon gee, maar die instelling laat dit nie toe nie?” 
·        Nee, die Gereformeerde kerk sluit dit nie uit nie. Immers, die Bybel praat daarvan in Hd.21:9: “Hy (Filippus) het vier ongetroude dogters gehad wat die gawe besit om God se boodskap te verkondig”.
·        Hierdie gawe is egter nie net vir die “erediens” gereserveer nie, maar is bedoel om gelowiges op te bou deurdat so iemand op ‘n heel konkrete wyse dinge sê wat insig in die wil van God gee – ook in die daaglikse gang van die lewe (1 Kor.14:3; 1 Pet.4:11; Hand.11:27-28). Vrouens, wat die gawe het, kan aangewend word as kategete, Bybelstudie-leiers ens. juis om gelowiges op te bou.
·        Die Gereformeerde kerke het egter op grond van hulle verstaan van o.a. 1 Kor.14:34 en 1 Tim.2:8-15 geoordeel dat vrouens nie in die erediens mag voorgaan nie. (Elders in ons gesprekskamer word hierdie Skrifgedeeltes meer volledig behandel. Lees dit gerus). 
 
Miskien sal my verduideliking van Ester se geskiedenis (na aanleiding van jou vraag oor “hedendaagse Esters”) meer opheldering gee.
·        Ester het nie die gawe van “prediking” van die Here ontvang nie en was dus nie ‘n profeet nie. Sy was ‘n “gewone” Joodse meisie wat een van die vroue van die koning van Persië, Ahasveros, geword het. Toe die Jode (wat nog in ballingskap oorgebly het), deur ‘n slinkse plan van Haman uitgemoor sou word, het sy haar bevoorregte posisie by die koning gebruik om die Jode te red (Est.7). Die feit dat sy koningin geword het, bely Mordegai (haar oom) as ‘n beskikking (nie ‘n “gawe”) van die Here (hoewel die Here se Naam nie een keer in die boek genoem word nie): “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het” (Est.4:14).
·        Die Here gebruik haar dus as “gewone” gelowige (ons sou kon sê: in die “amp van gelowige”) om iets (groots) in sy koninkryk te doen – sonder dat sy gesalf (bevestig) is as profeet (prediker; dominee) of watter “amp” ookal.
·        Elke Christen (mans en vrouens) staan in die “amp” (eerder “diens”) van profeet, priester en koning. Ons lees dit in 1 Petrus 2:9: “Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig”. Ook die HK (Sondag 12:32) bely dit as hy vra “waarom word jy ‘n Christen genoem?”: “Omdat ek deur die geloof ‘n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing, sodat ek sy Naam kan bely (diens van profeet/prediker), myself as ‘n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (diens van priester) en in hierdie lewe teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer” (diens van koning).
·        Ester het presies dit gedoen: sy het as “priester” ingetree by die koning (en daardeur haar toewyding aan die Here en sy volk gewys); as “profeet” het sy getuig (toe sy “genade” vir haar volk by die koning gevra het, en waarskynlik ook met haar lewenswyse getuig van haar geloof) en as “koning” het sy gestry (en regeer oor) teen die sonde (die uitmoor van haar volk).
·        Dit is elke gelowige se roeping elke dag – om as profeet te getuig van die Here se genade deur jou woorde en dade; om priesterlik jouself in diens van die Here te stel (ook deur vir ander mense om te gee, te bid ens.); en deur koninklik teen die sonde te stry.
·        Die “instelling” hoef dit dus nie “toe te laat” nie. Dit is (en moet) wesentlik deel wees van elke gelowige se lewe. 
 
Ds. Charl van Rooy