Is die kyk na okkulte films nie dieselfde as vleis geoffer aan afgode nie?

Aandag: maak 'n nuwe venster oop! PDFAfdrukE-pos

Vraag : Aangaande die vraag oor vampiere ens. op tv of die flieks, ek wil net weet of dit nie 'n soortgelyke saak is soos die van vleis geoffer aan afgode nie? Die verse waarna ek verwys is 1 Kor. 8:8-13. Geld dieselfde reels nie?

 
Die wonder van post-modernisme is dat dit ’n groter eerlikheid en vrymoedigheid by ons gebring het. Daarvan is hierdie forum ’n voorbeeld. Ek hoef nie alles vir soetkoek op te eet wat ’n ander ou sê nie. Ek kan hom/haar “challenge” met my siening en vrae. Daarom is ek baie bly vir jou vraag. Dit is belangrik dat ons nie met rigiede standpunte ’n saak probeer afmaak nie, maar dat ons sal vra of daar nie meer as een “regte” benadering kan wees nie. 
 
Jy verwys na Paulus se redenasie dat die Korintiërs volgens hulle gewete moet optree wanneer hulle vleis eet wat aan ’n afgod ge-offer is.   Dit is dan juis Paulus se standpunt hier dat iets vir een iemand sonde kan wees omdat hy verkeerd daaroor dink terwyl dieselfde ding vir iemand anders heeltemal goed en reg is, omdat hy/sy dit reg verstaan.   Val die kyk van hierdie flieks dalk in dieselfde kategorie?
 
Paulus sê in hierdie gedeelte twee dinge:
 
·         ’n Afgod is niks, net maar die denkbeeld van mense se gedagtes, daarom wie dit insien en die vleis kan eet sonder dat sy gewete hom hinder kan maar die vleis eet.
·         Indien jy egter iemand anders laat struikel wat nog swak is in die geloof, dan moet jy nie die vleis eet nie. Die een wat swak is in die geloof sien jy eet dit, en dink jy dien nog die afgod en word verlei om self ook die vleis te eet in diens van die sogenaamde afgod.
 
Jou vraag is dus of ons nie hieruit moet aflei dat as ek ’n fliek kyk oor vampiere, en dit vir my blote verbeeldingsvlugte en ligte vermaak is, dan kan ek maar daarna kyk nie. Die voorwaarde sou dan net wees dat jy nie iemand wat geneig is tot sulke dade, deur jou kykery tot struikeling is nie.
 
Dit is egter nie so eenvoudig nie.   Die vleis waarvan Paulus ’n voorbeeld maak, is ’n neutrale entiteit dws die vleis opsigself dra geen boodskap oor nie, behalwe die betekenis wat jyself daaraan heg of nie heg nie. Die vampiere-fliek verkondig egter doelbewus ’n bepaalde gesindheid en betrek jou by dade van uitbuiting en bloeddorstigheid en selfs moord. Een van die uitstaande kenmerke van die dade van vampiere is om mag te kry oor iemand anders. Een van die vampier-webladsye verkondig dat jy geleer sal word “how to get your way with people”.     Daar is dus vandag nog mense wat ander mense se bloed tap en dit drink, selfs mense ontvoer en hulle dan van hulle bloed beroof totdat hulle uiteindelik sterf. Van die webladsye stel dit ook voor as ’n godsdiens en iets wat jou wese raak, nie maar iets wat jy beoefen nie, maar iets wat jy word. Dit is dus ’n lewensoorheersende bedrywigheid waar die boodskap oorgedra word dat ek ander vir my voordeel moet ontgin, hulle energie moet gebruik tot my voordeel. Ons kry ook emosionele vampiere en finansiële vampiere in vandag se samelewing.
 
Dit is baie keer juis die misterieuse van die vampiere wat mense fassineer. Hiermee word daar in mense die begeerte aangewakker om by hierdie lewenswyse of mense wat so leef, betrokke te raak.
 
In 1 Kor 10 staan die volgende:
19 Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is?
20 Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.
21 Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.
22 Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?
23 Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie.
24 Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ‘n ander.
 
Vampieristiese optrede is duidelik deur die duiwel geïnspireer en wanneer ons daarna kyk kan dit ons blootstel daaraan dat ons gemeenskap met duiwels hou. Vers 23 is veral ter sake :  Al sou ons kon sê dat ons daarna kan kyk sonder dat dit ons beïnvloed, is dit nie iets wat nuttig is vir opbou van ons geloof nie en maak ons nie die beste gebruik van ons tyd om God te dien nie. Ons verspil ons tyd deur na die selfsugtige dade van kinders van die duiwel te kyk en nie liewer betrokke te wees daarby om die voordeel van ander te soek nie (vs 24).
 
Ef. 5 is hier ook belangrik:
10 En beproef wat die Here welbehaaglik is; 11 en hou nie gemeenskap met die onvrugbare
werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. 12 Want wat in die geheim deur hulle
gedoen word, is skandelik selfs om te noem.
By sommige dinge wil ons as kinders van die lig glad nie betrokke raak nie, nie eers om daaroor te praat nie (tensy ons die verkeerdheid daarvan uitwys – dit bestraf), wat nog om daarna te kyk en dit te geniet. 
In die Januarie uitgawe van die tydskrif Joy skryf Taryn Hodgen dat die Twilight reeks ‘n “herverpakking van die okkulte” is.   Dave Robberts skryf in sy boek The Twilight Gospel dat die goeie karakters in die boeke die is wat daarop ingestel is om hulleself te dien, en ’n new paganisme (heidendom) uitleef.   Al is die karakters in bepaalde opsigte “goeie ouens” maak dit hulle nog nie geskikte rolmodelle nie.  
 
omdat dit ons geleentheid gee om in ons gedagtes betrokke raak by dinge waarby ons nie in die normale lewe betrokke sal wil wees nie. Hierby sluit die artikel van Berit Kjos aan:
2. Fantasy and imagination can transform beliefs and values more quickly than reality.Many of our readers defend their love for occult entertainment with this standard justification: "I know the difference between reality and fantasy." But it doesn't matter! Know it or not, persuasive fiction and virtual experience can change minds and plant lasting memories more effectively than actual experience”
 
Dit sluit ook aan by Leon van Nierop se resensie van die Twilight-flieks waarin hy sê dat die gewildheid van die flieks aangewakker word deur “eksotiese karakters, verborge begeertes en donker versugtinge.” Hy sê verder dat die verbode liefde ook mense fasineer en trek. 
 
Om op te som: Om hierdie flieks te kyk, dink ek, is om nie die beste gebruik te maak van jou tyd nie en dit hou die gevaar in dat jy in jou gedagtes betrokke raak by dit wat nie opbouend vir jou geloof is nie.
 
Ouers wie se kinders reeds die boeke gelees het of die flieks gekyk het, behoort saam met hulle te gaan sit en die verkeerde aan hulle uit te wys.
 
Lees die artikels van outeurs wat aangehaal is by die volgende skakels:

 
Taryn Hodgen:

 

 
 

 

 
Dr. Gert Breed