Moet 'n mens aan die begin van 'n nuwe verhouding vertel van jou seksuele verlede.



Vraag: Indien 'n man / vrou voorheen seksuele verhoudings gehad maar wil reg leef in die oë van die Here wat staan so persoon te doen?
Moet 'n mens aan die begin van 'n nuwe verhouding vertel van jou seksuele verlede. Indien wel hoeveel detail?
Die ding is dat dit waarskynlik iets is waaroor mens skaam sal wees, iets wat jy in die verlede wil laat en 'n roof kan wees wat nie gekrap wil word nie.
Verder is dit so dat die akoestiek in die kerk baie goed is en dat christenviende van wie dit geheim gehou was daarvan te hoor kan kom. Respek en eerbied kan verloor word vir 'n persoon wat jare terug foute gemaak het.
Daar is nie goeie rede vir my foute nie. Ek het in 'n goeie dopperhuis groot geword. Ek was nog altyd een van die "betrokke" lidmate.
Ek het meer as een keer die opmerking gekry dat ek een van die goeie manne is. Maar dit is waar die duiwel my seker meeste versoek.
Al het ek besef dat ek verkeerd is, het ek met ander 'n meisie weer die fout gemaak. En ek weet om te sê "ek het gedog ons gaan trou" is nie 'n goeie verskoning nie. Ek wou werklik trou. En die plan was om te trou. Maar ek is nie met een getroud nie.
Ek het onlangs my hart uitgestort teenoor my meisie. Ek het gestel dat ek nie weer wil seksuele omgang wil hê voor die huwelik nie.
Haar reaksie was dat sy nie kan verstaan nie. Dat indien die verhouding voortgaan, ek iets waarvoor sy gewag het, weggegee het. Dat sy nie weet of sy my in die huwelik sal kan vertrou nie.
Sy is reg!
As Christen weet ek dat die liggaam 'n tempel van God is. Maar, ek weet ook dat dat die liggaam is nie die godsdiens nie. Dit is wel 'n sentrale aspek van die geloof. Ek weet dat God mense vergewe. Dat hy my vergewe.
My enigste benadering sal wees om nie net te sê dat ek verkeerd was nie. Maar om vorentoe reg te doen.
As ek aan enige iemand advies kan gee: Perke en grense. Moenie 'n grys gebied hê van wat nie seks is nie. Hou by die reëls. As dit 'n seksuele aard het is dit vir die huwelik. Huwelik is trou. Trou is nie net iets wat mens aan mekaar sweer nie, dit is 'n belofte voor die Here. Moenie dink mens sal net langs mekaar slaap nie. 'n Mens se lyf soek meer.
Die prys wat mens betaal vir gister se foute kan baie duur wees in die toekoms.
Antwoord:
Dis ‘n heerlike troos om te weet dat Heilige Gees ons verstand verlig sodat ons uiteindelik ook vir so ‘n ingewikkelde en hartseer situasie wel raad sal hê, al ken ons maar net ten dele!
Die brief is vol Bybelgetroue waarhede wat wel almal verband hou met die eintlike vraag, maar dit gaan miskien help as ons maar op die vraag self konsentreer : “ Indien 'n man / vrou voorheen seksuele verhoudings gehad het maar wil reg leef in die oë van die Here wat staan so persoon te doen? Moet 'n mens aan die begin van 'n nuwe verhouding vertel van jou seksuele verlede. Indien wel hoeveel detail?”
In ‘n liefdesverhouding is vertroue van die grootste belang en daarom rig leuens en geheimhouding groot skade aan. Niemand sal waardering daarvoor hê as jy later moet agterkom dat die ander persoon nie eerlik met jou was nie, en dat hy dus eintlik nie die mens is wat hy voorgegee het om te wees nie.
Daarom moet ons maar altyd alle valsheid en skyn vermy, al is die versoeking soms groot om die ander een in ‘n nuwe verhouding te probeer beïndruk. Niemand kry dit maklik reg om net maar jouself te wees nie, maar dis die moeite werd om biddend by die Here sy genade daarvoor te soek sodat jou maat jou kan leer ken as ‘n mens met gebreke en swakhede voordat jy nog enigsins oor jou seksuele verlede gepraat het.
Daar is immers in elke vriendskapsverhouding hopelik ‘n eerste stadium waarin mense mekaar nog net leer ken en die vryheid het om te kan besluit of hulle met die vriendskap wil voortgaan. In daardie fase sal die seksuele seker nie direk ter sprake kom (of hoef te kom ) nie.
Maar voordat die vriendskap groei tot ‘n vaste liefdesverhouding sal openhartig die waarheid oor die verlede vertel moet word. Die vraag is net : “wat is nou die waarheid in so ‘n situasie ?”. In die Kategismus sluit die verklaring van die 9de gebod af met die uitspraak dat terwyl ek alle lieg en bedrieg as die eie werke van die duiwel moet vermy, ek “my naaste se eer en goeie naam na my vermoë (moet) verdedig en bevorder.” (HK Sondag 43). Op grond van die Woord bely ons dus dat die sg. waarheid wat ek iemand vertel soms in stryd met God se Woord kan wees as ek daardeur iemand benadeel . Daarom is byv. ook skinder sonde al vertel ek ‘n “waarheid “ oor om iemand seer te maak.
Ek dink as ons hieraan vashou, word dit al ietwat makliker om te besluit of jy ‘n nuwe vriendin moet vertel van jou seksuele verlede.
Dit word ‘n leuen as jy daaroor stilbly omdat jy jouself wil beskerm en wil seker maak dat die ander een bewondering vir jou sal hê, maar dit is ook in stryd met God se wil as jy die detail van jou verlede met iemand deel sonder om te dink aan wat dit aan haar gaan doen .
As dit werklik oor die ander se eer en goeie naam gaan, dus ook oor daardie een se selfrespek, is dit ook nie gewens om alles wat jy dink of gelees of gehoor of gedoen het oor te vertel nie. Dis nie eerlikheid om byv. vir jou maat presies te sê wat jy van haar ouers dink nie, dis eerder gevoelloosheid! Daar is ook dinge wat ‘n mens in jou eie gemoed eerlik voor die Here moet deurwerk en tot ander insigte moet kom.
Die belangrike rede waarom jy nie seks voor die huwelik wil hê nie, is immers nie omdat jy dit voorheen gedoen het en nou moet oorvertel nie, maar omdat jy uit die foute van die verlede geleer het wat die Here in sy Woord van jou verwag --- en oor Hom en sy Woord kan jy openlik met ‘n nuwe vriendin praat. Daarom kan jy teenoor ‘n nuwe vriendin erken en bely dat jy al in baie opsigte gesondig het, maar daaroor berou het en graag in die krag van die opgestane Jesus saam met haar tot eer van God wil lewe.
Soos jy haar nie hoef te vertel van elke bose gedagte of vloekwoord of wellustige begeerte nie, is dit sekerlik ook nie nodig om in besonderhede te vertel oor jou seksuele verlede nie.
Sy is waarskynlik ook ‘n mens wat al gesondig het, en jy sal haar tog nie eers kan liefhê as sy alles in besonderhede teenoor jou erken het nie!
Maar, en dis ‘n groot “maar” : dan moet jy nie valslik probeer voorgee dat jy sonder sonde is nie, en dan moet dit nie gaan oor jou eie belang ten koste van die waarheid nie!
As sy jou direk vra oor jou verlede, dalk omdat sy by iemand daarvan gehoor het, moet jy oordeel of dit iemand is met wie jy daaroor behoort te praat omdat sy werklik vir jou omgee en saam met jou kan bly wees oor die vergifnis wat jy ontvang het, en dan moet jy eerlik soveel vertel as wat betaamlik is.Daarby moet jy ook sorg dat die vorige vriendin se naam nie beswadder word nie.
Ons kan ons verlede nie uitwis nie en in ‘n verhouding moet twee sondige mense mekaar in Christus aanvaar selfs al weet ons nie alles van mekaar nie. Wat ‘n man soek, is nie ‘n lewensmaat wat jou op ‘n troontjie plaas omdat sy nie jou gebreke ken nie, maar een wat weet dat jy net soos sy, leef uit die ontferming van God en uit die krag wat Hy gee sodat ons nie weer sal sondig nie.
As jy dit op die regte manier eerlik met haar deel en sy die verhouding daaroor verbreek, sou daar heel waarskynlik ook oor ander gebreke en sonde later ‘n breuk ontstaan en moes die verhouding nie gevorder het nie..
Die eintlike baie duur prys vir ons verlede het Jesus aan die kruis vir ons betaal. Iemand wat in liefde saam met jou daaroor wil bly wees, sal haar nie in jou struikelinge verlustig of jou daaroor verwerp nie. Jy moet ook nie !
Nico Botha