Wanneer sondig mens teen die Heilige Gees?
Vraag: Wanneer sondig mens teen die Heilige Gees?
Antwoord:
Dit is ’n baie belangrike vraag wat jy vra. Hierdie vraag het al menige christen tye van twyfel en vrees laat beleef. Daarom wil ek sommer hier heel aan die begin sê dat iemand wat opreg berou het oor ’n sonde en verlang om naby God te wees, nie die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het nie. Dit sal uit die res van die antwoord duidelik word waarom ek so sê.
In kort: Die sonde teen die Heilige Gees:
- word deur iemand gedoen wat kennis het van God en die Woord en reeds God se werk ervaar het, en nie deur iemand wat God glad nie ken nie.
- word deur iemand gedoen wat nie waarlik wedergebore is nie en oor ’n lang tydperk die Gees van die Here bedroef.
- word deur iemand gedoen wanneer hy so gewoond raak om die Gees te bedroef dat hy bereid is om vir eie belang te sê dat die werk van die Gees werk van satan is – al weet hy dit is die werk van die Gees.
- Iemand wat waarlik wedergebore is kan in sonde val, maar God sal keer dat hy nie die sonde teen die Gees pleeg nie.
- Iemand wat met ’n sonde in sy/haar lewe worstel, al is dit oor ’n baie lang tyd, maar telkens opregte berou en bekering beleef, hoef nie te dink dat hulle die sonde teen die Gees begaan het nie.
Om te verstaan wat die sonde teen die Heilige Gees is, moet ons verskillende gedeeltes uit die Skrif met mekaar vergelyk.
1. Die sonde teen die Heilige Gees sal nie vergewe word nie.
Dit is duidelik uit verskeie gedeeltes dat alle sondes vergewe kan word, behalwe die sonde teen die Heilige Gees.
Markus 3:28-30: "Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde." Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: "Hy is van 'n onrein gees besete."
2. Die sonde teen die Heilige Gees word deur mense gepleeg met insig en kennis van God en nie deur iemand wat geen kennis het nie.
Hebreërs 6:4-6:Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees,die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot 'n bespotting.
Hy praat hier van mense wat God en sy genade al ervaar het, maar wat nie daardeur nuutgemaak of wedergebore is nie. Hulle is deur God verlig, met ander woorde hulle het die evangelie helder en duidelik gehoor en verstaan, hulle het die hemelse gawe ontvang en deel gekry aan die Heilige Gees m.a.w. hulle is soos die mense waarvan Jesus in Matteus 7:22 praat. Hierdie mense sê dat hulle in die Here se naam geprofeteer en duiwels uitgedryf het (gawes van die Gees). Die Here sê egter vir hulle dat Hy hulle nie ken nie. Hulle het dus nie ’n ware geloof gehad nie, al het die Gees deur hulle gewerk. Hulle het ook die goeie Woord van God leer ken, iemand kan ’n predikant of professor wees, die Bybel deur en deur ken en tog verlore gaan. Die sonde teen die Heilige Gees is dus ’n sonde wat deur mense met kennis en ervaring van God gepleeg word.
3. Die sonde teen die Heilige Gees is die vrug van ’n lang tyd waarin die Heilige Gees bedroef is.
Ek bedroef die Heilge Gees wanneer ek nie vir Hom wil luister nie. Hy wil my laat groei in my geloof sodat ek meer en meer volgens die wil van God sal lewe en meer en meer soos Christus word. Hy wil my ook in sy diens gebruik om ander mense te bedien met God se liefde en hulle na God te lei. Hy wil my ook lei om in noue gemeenskap en liefde met God te leef. Wanneer ek sy werk teenstaan en doen wat ek wil en nie wat Hy wil nie, bedroef ek Hom en kan ek selfs sy werk in my blus. Die Heilige Gees laat dus soms toe dat ons Hom kan weerstaan. Dit gebeur met alle christene in ’n mindere of meerdere mate en is nie die sonde teen die Heilige Gees nie.
Efesiërs 4:28-32 As iemand 'n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op 'n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee. Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.
Volgens Ef. 4 bedroef ek die Heilige Gees o.a. wanneer ek steel, vloek en skel en verbitterd en opvlieend is en ook wanneer ek nie hartlik is teenoor ander en hulle vergewe nie. Deur elke sonde bedroef ek die Heilige Gees.
Wanneer iemand oor ’n lang tydperk die Heilige Gees bedroef, loop daardie persoon gevaar om die sonde teen die Heilige Gees te pleeg.
In Hebreërs 5:11 tot 6:8 word hieroor gehandel. Die skrywer sê vir die gemeente dat hulle traag geword het om te leer en dat hy hulle daarom net met babakos kan voer. Hulle moes al leermeesters gewees het, maar is nog babatjies in die geloof. Hy waarsku hulle dan, en gebruik ’n beeld. Hy sê dat iemand wat die genade van God ervaar, maar dit nie gebruik nie, die Heilige Gees voortdurend bedroef en gevaar loop om die sonde teen die Heilige Gees te pleeg sodat hy nie weer tot bekering gelei kan word nie. Die persoon is soos grond wat reën ontvang, keer op keer, maar net dorings en distels voortbring en uiteindelik deur God vervloek word.
Hebreërs 6:4-8 Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees,die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot 'n bespotting. Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur.
Petrus praat ook oor mense wat die regte pad ken maar afgedwaal en in sonde volhard:
2 Petrus 2:20-22 : Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die heilige gebod wat aan hulle oorgedra is.
Van hulle is die spreekwoorde waar: "'n Hond gaan terug na sy braaksel toe" en: "'n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die modder."
Ook in hoofstuk 1 praat Petrus reeds van die gevaar daarvan dat iemand homself as christen beskou maar nie groei in sy geloof nie:
2 Petrus 1:9 : Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is.
Die sonde teen die Heilige Gees is dus die vrug van ’n lewe waarin die Heilige Gees volhardend bedroef word deur sonde en ’n gebrek aan geestelike groei.
Dit word ook duidelik uit 1 Timoteus 1
Om te volhard in die sonde moet ek my gewete onderdruk. Dit is soos ’n skeepskaptein wat die lig van die ligtoring sien en weet dat dit hy in gevaarlike waters is, maar tog bly vaar sonder om op die waarskuwing ag te slaan. Of soos die kaptein van die Titanic wat oorgerus was en gedink het sy boot is onsinkbaar, hy kan maar vaar waar en so vinnig as hy wil. So skip gaan die een of ander tyd op die rotse loop of homself te pletter vaar teen ’n ysberg. So is iemand wat sy gewete onderdruk.
Ons moet egter duidelik verstaan dat dit hier nie gaan oor iemand wat telkens opreg berou het, maar tog voortdurend met ’n sonde soos verslawing worstel nie. Hierdie mense onderdruk nie hulle gewete nie, maar het werklik ’n geloofstryd met die sonde in hulle lewe. Iemand wat dus telkens opreg berou het en tog telkens weer val, maar nooit ophou stry teen die sonde nie, moenie dink hulle het die sonde teen die Gees gepleeg nie.
4. Die sonde teen die Heilige Gees is ‘n doelbewuste sonde.
Die sonde teen die Heilige Gees is nie iets wat iemand wat ’n gelowige is, in ’n onbewaakte oomblik kan pleeg nie, dit is iets wat daardie persoon doelbewus teen sy beterwete doen.
Hebreërs 10:25-27 : Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom. Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.
Die baie belangrike feit wat ons mooi moet begryp is dat die sonde teen die Heilige Gees ’n doelbewuste sonde is. Dit gaan saam met ’n ander belangrike feit en dit is dat iemand die sonde teen die Heilige Gees pleeg wanneer hy/sy die werk van die Gees as werk van satan afmaak.
5. Ek pleeg die sonde teen die Heilige Gees wanneer iemand se werk, wat ek weet die Heilige Gees se werk is, aan satan toeskryf.
Ons weet almal dat die Fariseërs vir Jesus gehaat het en ter selfdertyd ook bang was vir Hom. Hulle was bang dat Hy hulle sou ontmasker en hulle volgelinge sou wegneem. Daarmee sou hulle, hulle posissie en mag verloor. Telkens in die evangelies word dit duidelik dat dit eintlik onmoontlik was dat hulle nie sou kon raaksien dat Hy van God af kom nie. Hy deel genade uit, maak siekes gesond, lammes loop en blindes sien. Nikodemus het dit duidelik verwoord:
Johannes 3:1-2: Daar was 'n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was 'n lid van die Joodse Raad. Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: "Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie."
So ook ’n bedelaar wat blind was en deur Jesus genees is. Wanneer die Fariseërs hom oor en oor vra na wat gebeur het en nie die getuienis van die man wil aanvaar nie, sê hy hierdie woorde:
Johannes 9;30-33 "Dis darem snaaks," sê hy daarop vir hulle. "Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom.Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie."
Selfs hierdie eenvoudige bedelaar sien die getuienis raak en besef dat Jesus die Seun van God is, die Fariseërs sluit hulle oë egter vir die getuienis. Hiermee bedroef hulle die Heilige Gees. Hulle onderdruk hulle gewete en raak so afgestomp dat hulle onversetlik besluit om Jesus dood te maak.
Dit loop alles daarop uit dat hulle uiteindelik die sonde teen die Heilige Gees pleeg.
Matteus 12:22-24 : Hulle het toe 'n man wat in die mag van 'n bose gees was, na Jesus toe gebring. Die man was blind en stom. Jesus het sy gebrek genees, sodat hy weer kon praat en sien. En die hele menigte mense was verslae en het gesê: "Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?" Die Fariseërs het hiervan gehoor en gesê: "Hy dryf bose geeste uit alleen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste."
Die Fariseërs hoor dat die mense begin wonder of Jesus nie miskien die Seun van Dawid, die verwagte Messias is nie. Hulle wil hierdie gedagterigting so vinnig moontlik stop en begin daarom vir die mense sê dat Jesus hierdie wonderwerk deur satan (Beëlsebul) gedoen het. Jesus wys dit uit dat hulle redenasie totaal onlogies is deur te sê dat die satan nie sy eie bose geeste sal uitdryf nie want dan sal sy koninkryk nie kan bly bestaan nie. En dan sê Jesus hierdie ingrypende woorde:
Matteus 12:31,32 : "Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie.As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie."
Die Fariseërs het al die kennis en hulle erken selfs dat Jesus bonatuurlike krag moet hê om hierdie wonderwerk te doen. Hulle moes sekerlik soos Nikodemus en die blinde (sienende) man, geweet het dat Jesus goeie dinge doen en dat dit daarom nie van die duiwel af kan kom wat Hy doen nie. Hulle het egter al so verhard geraak dat, al weet hulle Jesus doen hierdie dinge deur die krag van die Heilige Gees, hulle sê dat Hy dit deur satan doen. Hulle skryf dus doelbewus die werk van die Gees aan satan toe. Daarmee belaster hulle doelbewus die Heilige Gees. Hulle het al so ver gevorder in hulle verharding dat hulle God nie meer vrees nie en sy Gees beledig. Hiermee toon hulle dat hulle permanent verhard is. God gee hulle dus nou oor aan hulle sonde sodat die Gees nie meer in hulle gaan werk en hulle tot bekering gaan lei nie.
Hulle het oor ’n lang tydperk gedoen wat hulle goedvind, en nie na die Gees geluister nie. Daarom loop dit daarop uit dat hulle die sonde teen die Gees pleeg waarvoor daar geen vergifnis moontlik is nie, want die Gees wat hulle tot bekering moet lei, werk nie meer in hulle nie.
6. Iemand wat die sonde teen die Gees gepleeg het word deur God oorgegee aan sy sonde.
Dat God iemand aan hulle sonde kan oorgee waarin hulle volhard, is vir ons duidelik in Romeine 1:
Romeine 1:24-26 Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer.Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen. Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in 'n teen-natuurlike omgang.
Wat beteken dit as God iemand oorgee? Hy neem sy Heilige Gees wat die rem is, wat hulle gewete deur die Woord aanspreek, van hulle af weg sodat hulle die leuen glo.
Romeine 1:28 En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is.
God gee hulle oor hieraan omdat hulle, al ken hulle die waarheid tog volgens die leuen lewe:
Romeine 1:32 :Hulle is mense wat die verordening van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.
7. Kan iemand wat waarlik wedergebore is die sonde teen die Gees pleeg?
Ons is wedergebore uit ewige (onverganklike) saad. Dit is die saad van God, dit is die Woord. Ek is aanvanklik gebore uit die versmelting van twee mense se verganklike saad en dit het ’n lewe voortgebring wat kan vergaan en ophou. Met my wedergeboorte is egter ’n onverganklike lewe in my gewek. Daarom al val ek hoe diep in die sonde, dit kan nie die ewige lewe binne my vernietig nie. God bewaar my daarvan dat ek die sonde teen die Gees sal pleeg. Vergelyk die Dordtse Leerreëls agter in die psalmboek.
8. Hoe weet ek of ek nie miskien die sonde teen die Gees gepleeg het nie?
As jy bekommerd is dat jy die sonde teen die Gees gepleeg het, wie maak jou bekommerd? Die Gees. As die Gees jou nog tot bekommernis en ware berou lei, het God jou nie aan jou sonde oorgegee nie en het jy dus ook nie die sonde teen die Gees gepleeg nie. Die mens wat die sonde teen die Gees gepleeg het, volhard sonder bekommernis in sy sonde, al sou hy bly voorgee dat hy glo, hy sien nie sy sonde raak nie. Die mense waarvan ons in pt. 2 gepraat het, is dus mense wat eens op ’n tyd iets van die werking van die Gees ervaar het, maar toe afgedwaal het. Dit kan selfs mense wees wat aktief werk in die kerk, maar in ’n bepaalde sonde of verkeerde gesindheid volhard sonder berou (soos die Fariseërs). Hierdeur wys hulle dat hulle nie waarlik wedergebore is nie en nie ’n ware geloof het nie.
Opregte berou en bekering is dus ’n seker teken dat jy nie die sonde teen die Gees gepleeg het nie.
Gert Breed




