Oortree ons die vierde gebod om Sondag en nie Saterdag nie die Sabbat te hou?



Vraag : Is dit nie 'n oortreding van die vierde gebod om Sabat te hou op Sondae inpleks van Saterdae nie? Volgens die Adventiste geloof is Saterdag-Sabat die "teken" van God aan Christene en Sondag-Sabat die "teken" van die satan wat ons mislei rondom die vierde gebod.
Antwoord:
Daar is natuurlik ‘n baie lang antwoord moontlik op hierdie vraag, want oor “Sabbat/Sondag” is al boekdele geskryf.
Ek gaan egter probeer om ‘n korterige antwoord te gee :
Van Genesis 2 : 3 af lees ons in baie boeke van die Bybel van die Sabbat van die Here , ‘n rusdag, ‘n sabbat wat aan Hom gewy is en wat op die sewende dag van die week “gedenk” en “geheilig” moes word na die sesdag werksweek. Dit was een van die kenmerke van God se volk wat hulle van die ander nasies onderskei het. Rondom die vierde gebod het in die geskrifte van die rabbi’s lang lyste reëls en bepalinge gekom in aansluiting by die Bybelse voorskrifte rondom die Sabbat of Rusdag. In die tyd van Jesus het hulle swaar laste op die Jode gelê het oor wat alles op daardie dag nie gedoen mog word nie.
Dis opmerklik dat een van die redes waarom die Skrifgeleerdes en Fariseërs Jesus gedurig beskuldig het van ongehoorsaamheid aan die Wet, juis was omdat Hyself nie hulle streng sabbatsreëls nagekom het nie ( lees gerus weer Matt. 12 : 1 vlg.; 12:10). Hy het ook duidelik gesê dat die sabbatdag vir die mens gemaak is en nie die mens vir die sabbat nie, en dat Hy “Here is ook oor die sabbat”( Mark.2:27, 28).
Na die opstanding van Jesus op die eerste dag van die week (die Sondag) lees ons gereeld dat die apostels en ander christene ook op die eerste dag van die week saam gekom het (Joh. 20:19,26) en dat die dag van sy opstanding ‘n al hoe groter plek in hulle lewe gekry het.
Die belangrikste is egter dat die sabbat in die Nuwe Testament genoem word as een van die “voorskrifte” wat “maar net die skaduwee is van wat sou kom; die werklikheid is Christus” (Kol.2 : 16,17) . Net soos die offers en die reiningingsvoorskrifte was die sabbat met sy streng bepalings deel van alles waardeur God sy volk gelei en voorberei het om uit te sien na die koms van die Verlosser wat ware rus vir sy volk sal bewerk , die ware ewige sabbat van vrede by God sal laat aanbreek.
Ons kan die gedagte dat dit alles maar net skaduwee was dan so verstaan : Dis soos wanneer die son agter ‘n hoë gebou is en jy al in die skaduwee na die gebou toe kan loop. Die skaduwee laat jou besef dat daar ‘n gebou is en jy kan uit die skaduwee ook aflei of die gebou breed is of ‘n spits punt het, maar dis net die skaduwee! As jy al met die skaduwee voortbeweeg kom jou by die gebou self en sien jy eers hoe pragtig dit is. Jesus is die vervulling van die wet en profesië!
Daarmee word dit ook sommer duidelik waarom die Sewendedag Adventiste nie saam met ons die Sondag kan vier as die dag van Jesus se opstanding en die begin van ware lewe nie : Hulle aanvaar nie dat Jesus Christus gekom het as die vervulling van al God se beloftes in die Ou Testament nie en dat Hy die werklikheid is waarna al die offers en ook die sabbat Sy volk wou laat uitsien nie. Hulle leer dat die wederkoms sal plaasvind wanneer die voorskrif van die wet gehoorsaam word, en gaan by die heerlike waarheid verby dat Jesus regtig alles aan die kruis “volbring” het. Die volledige en heerlike koms van sy koninkryk by Sy wederkoms, gebeur nie omdat mense aan die wet gehoorsaam is nie, maar omdat ons in ware geloof verbind is aan Jesus Christus wat ‘n nuwe en ware lewe vir ons laat aanbreek het.
“Sondag-sabbat” is nie die teken van die satan wat ons mislei nie! Ons Rusdag op die eerste dag van die week is juis die teken dat ons glo in ons Here wat alles gedoen het sodat ons elke week in gehoorsaamheid en oorgawe aan Hom kan begin.
Nico Botha