

|
Gemeente- karakter en samestelling |
|
Ouderdomme
Gereformeerde Kerk Randburg bestaan uit ongeveer 1300 lidmate waarvan die grootste hoeveelheid tussen 18 en 35 jaar oud is. Daar bestaan egter ’n baie mooi balans tussen ouer en jonger lidmate en die bediening spits hom toe op die verskillende behoeftes eie aan elke ouderdomsgroepering.
Wyke Ons wyke word saamgestel volgens die omstandigheid van die besoekpunte: A wyke bestaan uit afgetrede lidmate (11 wyke). Mense wat nie (meer) kinders in die skool het nie word in die B wyke bedien (12 wyke). Huisgesinne met kinders in die skool vorm die C wyke (20 wyke). Die D wyke is jonggetroude mense sonder kinders (12 wyke) en die E wyke is ongetroude jongmense (25 wyke). Wyke word deur ouderlinge en diakens bedien en versorg en vorm in sommige gevalle ’n Bybelstudiegroep.
Karakter Alles wat ons doen en beplan wil ons volgens die Woord van God inrig. Dit hou in dat ons vernuwend dink binne die riglyne van die Woord en ook die sinodebesluite van ons kerkverband. Ons eredienste het ’n gemaklike en informele karakter wat volgens ’n bepaalde orde verloop. Ons wil in ons eredienste ’n rustige atmosfeer skep waarbinne die ontmoeting met God kan plaasvind, dit bepaal ook die musiekinstrumente wat ons gebruik. Ons glo dat kennis van God die sleutel is waardeur die rykdomme van God se genade ontsluit word (2 Petrus 1) en waardeur ons kan groei na ware gemeenskap met God. Ons glo ook op grond van Efesiërs 6 dat kennis van die waarhede in die Woord ons toerus met die wapenrusting waarmee ons die bose magte kan oorwin. Ons kinders word in diepte onderrig sodat hulle God se wonderdade kan ken en Hom sal vertrou en Hom daarom sal gehoorsaam (Psalm 78).
Ons het ’n Bybelskool waarin die Bybel deurgewerk word in die basiese kursus en waar ook meer gevorderde toerustingskursusse aangebied word. Ons karakter kan verder gesien word in ons doelwitte. |
